Quantcast
Channel: Gewigsverlies – Goeie Huishouding
Viewing all 43 articles
Browse latest View live

Suzelle DIY en Tim Noakes maak blomkoolpizza


4 Redes waarom jou oefenroetine nie werk nie.

$
0
0

“Daar is baie wanopvattings wanneer dit by oefening en fiksheid kom en baie daarvan het te make met die balans tussen ’n afgeronde oefenroetine en die korrekte voeding,” sê Niamh McGuirk-Lubbe, nasionale produkbestuurder by Planet Fitness.

Verskeidenheid in jou oefenroetine is die kern tot ’n sterker lyf

Jou weeklikse oefenroetine moet ’n goeie balans kardio, gewigsoefening, maagoefeninge en strekbewegings wees. As jy elke dag of week na week dieselfde roetine volg, sal jy ophou om jou lyf uit te daag om harder te werk, en jy sal ’n plato bereik.

Jy beloon jouself met ’n happie

Baie mense beloon hulself met kos ná ’n intensiewe oefensessie. As jy jou oggend-drafsessie met ’n stuk koek uitskakel, sal dit slegs tot gewigstoename lei. McGuirk-Lubbe stel voor dat jy jou oefensessie laat tel deur ’n gesonde eetplan te volg wat jou skedule komplementeer.

Jy het nie jou eetplan verander nie

As jy jou oefening vermeerder met die doel om fermer te raak en ’n paar sentimeter te verloor, is dit noodsaaklik dat jy jou eetplan dophou. As jy jou dieet beplan met die geskikte aantal kilojoules vir gewigsbehee, sal dit beslis ’n verskil maak.

Jy kry nie genoeg slaap nie

Wanneer dit by oefening kom, is slaap ’n belangrike faktor. Te min slaap beïnvloed hormone – dit beïnvloed gevolglik jou kosdrange en die neiging om gewig op te tel. As jy gereeld moeg is, sal jy maklik die motivering verloor wat nodig is vir ’n goeie oefensessie en resultate. Rus!

Vir meer inligting oor Planet Fitness, besoek www.planetfitness.co.za.

Vir algemene nuus, volg Planet Fitness on @PlanetFitnessZA en The Planet Fitness.

The post 4 Redes waarom jou oefenroetine nie werk nie. appeared first on Goeie Huishouding.

Die geheim om op te hou peusel

$
0
0

Lees hier hoe om te keer dat jy tussenin eet:

  1. Trek vir jou maaltye ’n nuwe baadjie aan

Suiker maak jou honger. Vermy dus kosse met baie suiker en moenie suiker by jou maaltye voeg nie. Eet meer vullende vet en proteïen (eiers, neute, sade, avokado’s, hoender, vis) en hope groente. Ontbyt is die belangrikste maaltyd, want dit bepaal jou eetpatroon vir die dag – probeer twee geposjeerde eiers en ’n paar skyfies avokado.

  1. Vra jouself hoekom

Peusel jy omdat jy verveeld is, uit gewoonte of omdat jy afleiding soek? Vra jouself of jy regtig honger is. Indien nie, vat ’n blaaskans van waarmee jy besig is, drink ’n glas water en begin iets nuuts doen.

  1. Stop die laatnag-gepeusel

Dit was ’n lang dag en al wat jy wil doen, is om op die rusbank te lê en jouself met trooskos (soos daardie sjokolade wat jy agterin die koskas wegsteek) te bederf. Probeer ander maniere kry om te ontspan, soos ’n lekker bad, ’n stappie teen sonsondergang saam met jou maat/vriendin/hond of met ’n koppie tee terwyl jy wag dat jou gesigmasker sy ding doen.

Wenke uit Eat. Nourish. Glow. deur Amelia Freer (Harper Collins)

LEES OOK

6 lui maniere om meer kilojoules te verbrand

Jou dieetlose eetplan

7 dieetwenke wat jy waarskynlik nog nooit probeer het nie

The post Die geheim om op te hou peusel appeared first on Goeie Huishouding.

9 Dieetmites wat jy nié moet glo nie

$
0
0

MITE: DETOKSE HELP JOU VERSLANK

Waarheid: Die meeste van ons begin nie met ’n sapdieet met die voorneme om vir die res van ons lewe by ’n superstreng-vloeistofdieet te hou nie, en met goeie rede! Dié kitsoplossing kan jou gewig meer skade as goed doen. Hoekom? Want jy hou vir ’n paar dae daarby, skud ’n kilo of twee af en … dan duik jy gesig eerste in die naaste roomysbak! Dis beter om klein, maar volhoubare veranderinge aan jou dieet te maak as om jou maaltye tot vloeistof – of basies babakos – te beperk. En jammer, maar ’n “3-dag-sapdieet” of ’n “veganistiese detoks van 22 dae” gaan jou nie soos Beyoncé laat lyk nie.

MITE: JY MOET “X” UITSNY OM GEWIG TE VERLOOR

Waarheid: Gluten, suiker, suiwel, koolhidrate, vleis – noem dit en daar’s ’n dieet wat sê jy mag dit nie eet nie. Toegegee, om sekere voedingstowwe of voedselgroepe uit te sny sal jou aanvanklik gewig laat verloor, maar dis meestal as gevolg van die gepaardgaande gedragsveranderinge. As jy byvoorbeeld suiker uitsny, eet jy mos nie meer elke tweede dag ’n kolwyntjie nie, of hoe? Maar daar is sekere voedselgroepe wat inderdaad tot ’n gewigstóéname sal lei as jy dit uitsny. Die meeste gluten- en suiwelvrye alternatiewe is propvol kilojoules en bevat onuitspreekbare bestanddele – die ware Jakob kan dus veel gesonder wees! Tensy daar ’n mediese rede is dat jy ’n sekere voedselgroep moet vermy, vermy eerder dié mite.

MITE: KOS VAN GESONDHEIDSWINKELS IS “BETER VIR JOU”

Waarheid: Lees altyd die etikette, ongeag waar jy inkopies doen. Hoewel kos goedgekeur moet word om as “organies” bestempel te word, moenie dink dit bevat noodwendig minder kilojoules nie. “Natuurlik” is nog misleidender – daar’s geen vaste reëls of regulasies vir die gebruik van dié woord nie. Byvoorbeeld, sommige jogurt wat as “alles natuurlike geure” geëtiketteer word, is steeds met suiker versoet! Kies kosse wat so natuurlik en onbewerk as moontlik is sodat jou winkelkopies jou nie sal laat waggel nie!

MITE: GESONDE VET KAN JOU GEWIG LAAT AFSKUD

Waarheid: ’n Vetvrye dieet kan jou gewig laat aansit omdat jy feitlik nooit versadig voel nie en jou dus aan suikerryke, verwerkte kosse kan vergryp. Aan die ander kant is dit ook net tot op ’n punt toe gesond om gereeld bestanddele soos klapperolie, olyfolie, neute en avokado te eet. Ja, daar is party vette wat “beter” as ander is, maar dit beteken nie jy kan dit onbeperk eet nie. Vet bevat 9 kJ per gram, terwyl proteïen en koolhidrate 4 kJ per gram bevat – dit kan vinnig ophoop. Maak dus seker jy meet kookolies, neute en avokado af om jou kilojoule-telling in toom te hou.

MITE: ALMAL HET ’N “KULDAG” NODIG

Waarheid: Ja en nee. Dié strategie werk fantasties vir party, maar ongelukkig nie vir almal nie. As ’n weeklikse “kuldag” verkeerd benut word, kan dit ’n hele week se goeie dieet- en oefeningvordering saboteer. Almal interpreteer ’n “kuldag” anders – party sal hul suikertand bevredig en ander sal die een hamburger ná die ander inryg, wat al twee tot gewigstoename kan lei. Die ander gevaar is dat jy kan sukkel om weer in jou gesonde roetine te kom van mooi eet en gereeld oefen. Oorweeg eerder ’n “kul”-maaltyd, -snoepding of -nagereg (iets wat jy nie noodwendig elke dag sal eet nie) en geniet elke liewe happie.

MITE: AS JY ’N STRENG DIEET VOLG, HOEF JY NIE TE OEFEN NIE

Waarheid: Dis waar dat jou eetgewoontes ’n belangriker rol as jou oefenroetiene speel wanneer dit by gewigsverlies kom, maar dit beteken nie jy kan die gim heeltemal vermy en ’n sofapokkel raak nie. Om fiks te bly is ’n belangrike manier om chroniese toestande soos diabetes en hartsiekte te keer. Selfs al het jy jou teikengewig behaal en eet elke dag reg, moet jy steeds tyd vir gereelde fisieke aktiwiteit inruim. In een studie is bevind dat diegene wat daagliks vir 30 minute of langer geoefen het, suksesvoller gewig afgeskud (en dit afgehou) het as dié wat nie geoefen het nie.

MITE: SEKERE KOSSE KAN JOU METABOLISME VERSNEL

Waarheid: Daar ís navorsing wat daarop dui dat sekere speserye – veral die sterk, branderige soort – ’n uitwerking op jou metabolisme kan hê. Net so kan sommige drankies soos groentee jou metabolisme ’n hupstoot gee. Maar wat as jy nie van sterk kos of groentee hou nie? Dis oukei – moet jouself nie dwing nie. Tot op hede is dit nog nie bewys dat een van dié twee ’n groot genoeg verandering aan jou metaboliese tempo maak nie. Hier’s ’n beter plan: Maak kragoefening deel van jou fiksheidsroetine. Daar’s wel navorsing wat bewys dat ’n verhoogde spiermassa jou metabolisme aanhelp. Laat jy swoeg en sweet, vriendin!

MITE: AS JY 30 MINUTE KARDIO-OEFENING GEDOEN HET, KAN JY DIE RES VAN DIE DAG ONTSPAN

Waarheid: Om fisieke aktiwiteit by jou daaglikse roetine in te sluit is ’n doeltreffende manier om jou wipplank-diëtery te staak. Hoewel ’n strawwe oefensessie jou metabolisme kan laat vlamvat, beteken dit nie jy kan die res van die dag aan jou stoel of rusbank vasgegom wees nie. Studies toon dat suksesvolle gewigsverlies en -handhawing beter is onder dié wat ’n punt daarvan maak om gedurig te beweeg. Dink aan eenvoudige maniere om aktief te bly, veral as jy ’n kantoorpos het. Vat die trappe, staan terwyl jy ’n telefoongesprek voer en loop op en af in die badkamer wanneer jy ná middagete jou tande borsel. Elke treetjie help!

Oorspronklik vir goodhousekeeping.com geskryf.

The post 9 Dieetmites wat jy nié moet glo nie appeared first on Goeie Huishouding.

GH-leser Brenda deel haar geheime vir haar gewigsverlies van 17 kg

$
0
0

“Ek was lank nie gelukkig met myself nie,” sê Brenda. “Ek het nie gehou van wat ek in die spieël gesien het nie.” Sy het verskeie kitsdiëte en behandelings probeer, soos om met menslike groeihormone ingespuit te word. Sy het altyd ’n paar sentimeter verloor, maar weer alles en nog aangesit. ’n Vriend het die Eden Life Wellness Clinic voorgestel en in Januarie 2014 het Brenda vir haar eerste konsultasie gegaan. Haar man, Gcobisa, het saamgegaan. Hy het volle vertroue in die gewigsverliesprogram gehad en volg dit soms self.

Brenda het suiker uitgesny – voorheen het sy dit selfs by vleis gevoeg. Hoewel koolhidrate nie verbied word nie, het sy opgehou om rys, brood, pasta en stampmielies saam met elke maaltyd te eet. “Ek’s van die Oos-Kaap en hou van my stampmielies, maar ek het te lank te veel koolhidrate geëet!” Groente en slaai kan jou ook volmaak, het sy besef. Hoewel die eerste week moeilik was, het sy binne drie weke sigbaar verslank. Toe sy eers die eetplan gewoond was, het sy nie meer Eden se produkte nodig gehad om kosdrange te beheer nie. Teen Mei het sy 61 kg geweeg. “Ek het regtig van die kos gehou. Die eetplan maak kosmaak boonop minder tydrowend.” Pleks van verskillende geregte bestaan ’n gesinsaandete bloot uit “geroosterde vleis en ’n bietjie gestoomde groente”.

Brenda ry fiets saam met haar man en gebruik soms gimtoerusting by die huis. “Daar’s nog dele waaraan ek wil werk, soos my arms, maar in die algemeen dink ek ek lyk sexy!” lag sy. Gcobisa bederf haar nou met klere. “Die komplimente van mense wat my lank laas gesien het, kan oorweldigend wees, maar dis meestal lekker om te hoor.”

Toe: 76 kg | No. 12 Nou: 59 kg | No. 8

Toe: 76 kg | No. 12
Nou: 59 kg | No. 8

FOTO: Tarryn Hatchett

 

Brenda se tipiese spyskaart

ONTBYT: All-Bran Flakes met laevetmelk

MIDDAGETE: Slaai of groenteroerbraai met geroosterde hoender, steak of vis

PEUSELHAPPIE: ’n Appel, lemoen, biltong of kasjoeneute

AANDETE: Geroosterde beesvleis met gemengde groente

TE DRINKE: ’n Halwe glas pomelosap saam met ontbyt en swart koffie teen teetyd; heeldag baie water

Brenda se top-drie wenke

  1. KRY ’N MENTOR.

My konsultasies elke twee weke het my baie bemoedig.

  1. GLO DAT JOU SMAAK GAAN VERANDER

Ek is nou gewoond aan koffie sonder suiker of melk.

  1. NEEM ELKE SEWENDE DAG ’N BLAASKANS.

Dis nooit ideaal om jou te ooreet nie, maar gun jouself een dag per week om ’n bietjie te kul!

The post GH-leser Brenda deel haar geheime vir haar gewigsverlies van 17 kg appeared first on Goeie Huishouding.

8 maniere om in die winter fiks te bly

$
0
0

Wanneer dit moeilik raak, onthou net: Oor drie maande sal jy jouself bedank!

  1. Koop nuwe gimklere

As jy goed lyk, sal dit jou goed laat voel. En wie hou nie van ’n verskoning om te gaan inkopies doen nie? Nuwe oefendrag kan beserings help voorkom as jy behoorlike drafskoene het.

  1. Maak jou yskas skoon

En nee, ons bedoel nie vee dit met seep en water af nie. Baie van ons is geneig om te dink ons kan eet wat ons wil as ons gereeld oefen, maar dis ’n onfeilbare manier om jou gewigsverliesplanne te saboteer. Raak ontslae van al die “slegte” goed en maak jou yskas vol gesonder alternatiewe.

  1. Gaan oefen direk voor of ná werk

Ons weet dis moeilik om vroeg op te staan om gim toe te gaan, maar dink net hoe dankbaar jy sal wees as jy reg ná werk kan huis toe gaan. As jy dit regtig nie soggens kan doen nie, vat jou gimsak werk toe, want as jy eers op die rusbank by die huis neerplons, is dit verby!

  1. Kry ’n gimtjommie

Kry iemand wat jy vir jou gewone verskonings sal val nie. Dit help ook om saam met iemand te oefen wat ’n bietjie fikser as jy is, want hulle kan jou help om jouself harder te druk. Oorweeg selfs ’n beloning vir die grootste verloorder – ’n bietjie kompetisie maak niemand seer nie!

  1. Moenie dat die skaal jou terneergedruk laat voel nie

Moenie ontmoedig raak wanneer die getal op die skaal nie in die rigting gaan wat jy wil hê nie (onthou, spiere weeg meer as vet) of nie vinnig genoeg val nie. Probeer ander maniere om jouself te “meet”, soos daardie jeans waarin jy so graag weer wil pas. Kyk na die spieël, nie die skaal nie

  1. Eet!

Natuurlik net wanneer jy honger is. En hou porsiebeheer in gedagte. Een van die grootste gewigsverliesfoute wat ons maak, is om etes oor te slaan. Dit vertraag jou metabolisme en sal veroorsaak dat jy jou later ooreet.

  1. Oefen by die huis

As jy regtig nie gim toe kan (of wil) gaan nie, is daar oorgenoeg alternatiewe wat jy in die gerief van jou eie huis kan probeer. Jy kan oefen-DVD’s koop, video’s van YouTube aflaai, basiese gimtoerusting soo gewigte en ’n oefenbal kry, of belê in iets groters soos ’n tredmeul of spinfiets – maar moenie dat dit in ’n klererak ontaard nie!

  1. Beplan ’n vakansie

Dis nie altyd maklik om gemotiveerd te bly nie. Hoekom beplan jy dus nie ’n ongelooflike vakansie sodat jy iets het om na uit te sien nie?

The post 8 maniere om in die winter fiks te bly appeared first on Goeie Huishouding.

Vind uit hoe hierdie leser 22 kg in 10 maande verloor het

$
0
0

Karen’s story

Karen het jare lank met haar gewig gesukkel nadat sy kinders gehad, opgehou rook en haar menopouse betree het. In Desember 2012, net nadat sy weens ’n stresvolle werkaangeleentheid ’n sabbatsjaar geneem het, is haar pa skielik aan kanker oorlede. Hy was oorgewig en sal nou nie sy kleinkinders kan sien grootword nie. Karen was self te oorgewig om saam met haar toe vyfjarige in die tuin rond te hardloop en het daagliks met pyne en skete opgestaan. “Ek het besef as ek nie my gewig onder beheer kry nie, gaan ek nie meer hier wees wanneer Erin ’n tiener is nie.”

Karen het in Junie 2013 
’n pamflet vir ’n Curves-gimnasium gesien en haar vir hul program ingeskryf. “Toe ek net begin gim het, het dit gevoel ek gaan dood!” onthou sy. “Maar jy raak geleidelik fikser.” Sy kon heel gerieflik aanlyn inteken, ’n spyskaart kies 
en ’n inkopielys uitdruk. Sy kon ’n blokkie sjokolade eet en saans haar glas wyn drink as sy daardie dag ’n sny brood uitgelaat het. Sy het 
vyf maaltye per dag begin eet – ’n aanpassing vir iemand wat ontbyt (en selfs middagete op besige dae) oorgeslaan en ’n groot aandete geëet het.

Karen het meer as 2 kg in die eerste week verloor en die vet het aanhou wegsmelt. “Toe ek my doelgewig in Mei 2014 bereik het, het my man, Paul, vir my gesê: ‘Jy het my iets van jou uithou- en deursettingsvermoë geleer.’ ” Karen, nou ’n Curves-ambassadeur, hardloop Sondae 2 km, speel aan-aan met Erin en dans saam met Shannon. “Jy besef nie hoe negatief jy jou selfvertroue beïnvloed deur so oorgewig te wees nie,” sê sy. “My hele lewensuitkyk het verander.”

Nou: 54 kg | Nommer 10 Toe: 70 kg | Nommer 14

Nou: 54 kg | Nommer 10
Toe: 70 kg | Nommer 14

Foto: Ian Reeves

Karen se tipiese spyskaart

ONTBYT: Instant Jungle Oats en ’n proteïenskommel

PEUSELHAPPIE: ’n Piesang en 12 amandels of kasjoeneute

MIDDAGETE: Tuna, vetvrye maaskaas, slaai en ’n sny brood

PEUSELHAPPIE: Twee nartjies of Nomu se laevet-warmsjokolade en neute

AANDETE: Hoenderborsies met kaas, gebakte aartappels, blomkool en broccoli

TE DRINKE: Water, koffie en ’n glas wyn

 

Karen se 3 topwenke

 

  1. VOLG ’N OEFENPROGRAM.

Wanneer jy op jou eie oefen, is dit maklik om verskonings te maak om nié te gaan oefen nie.

  1. MOENIE JOUSELF ALLES ONTSÊ NIE.

Dis nie volhoubaar nie. Ek eet soms koek, maar net ’n klein stukkie, nie die hele koek nie!

  1. WEES TOEGEWYD.

Ek gim 30 minute lank, vier dae van die week. As jy nie 30 minute per dag kan afknyp nie, wil jy nie regtig gewig verloor nie.

The post Vind uit hoe hierdie leser 22 kg in 10 maande verloor het appeared first on Goeie Huishouding.

Dié werkende ma vertel hoe sy 16 kilo’s verloor het

$
0
0

Rouna se storie

Hoewel Rouna nie tydens haar swangerskap met haar dogter, Gia, baie gewig aangesit het nie, het haar Fanta-lus daartoe gelei dat sy 2 liter per dag gedrink het – ’n gewoonte wat tot haar gewigstoename ná die geboorte bygedra het. Sy het ’n laekoolhidraat-dieet met inspuitings probeer, maar weer al die gewig aangesit. Sy het asmaties begin word en gesukkel om selfs kort ente te stap. “Foto’s van my het my depressief laat voel,” vertel sy.

In Oktober 2012 het Rouna op pad werk toe ’n Weigh-Less-advertensie op ’n reklamebord gesien en besluit om na ’n sessie te gaan. Gim was nog nie ’n opsie vir dié werkende ma met beperkte vrye tyd nie, maar sy het die eetplan gevolg deur elke twee tot drie uur te eet en die “regte porsies te eet, wat ek nooit voorheen gedoen het nie”. Met haar groepleier, Reena Vidyanand, se raad het sy ’n inkopielys gemaak en ’n spyskaart vir die week uitgewerk.

“Om 1,2 kg ná die eerste week te verloor was my keerpunt. Dit was die eerste keer dat ek soveel gewig afgeskud het deur die regte kos te eet.” Rouna het aanvanklik aparte geregte vir haar man, Pravesh, berei, maar hy het kort daarna saam met Rouna en Gia gesonder begin eet. Pravesh was deurentyd ’n “standvastige rots” en Gia was ’n motiveerder: Ná elke groepsessie het sy gevra om Rouna se plakker vir haar nuwe gewigsverliesmylpaal te sien en as daar nie een was nie, sou sy haar ma daaroor uitvra. Binne ’n jaar het Rouna tot 54 kg gekrimp. “Pravesh is so bly om sy slanke vrou terug te hê,” sê Rouna, wat nou gereeld wateraërobiese oefeninge doen en spinklasse bywoon. “Ek weet nou dat wat ek in my mond sit deur my lyf weerspieël word. Niks smaak lekkerder as ’n slanke figuur nie!”

Nou: 54 kg | Nommer 10 Toe: 70 kg | Nommer 14

Nou: 54 kg | Nommer 10
Toe: 70 kg | Nommer 14

Foto: Craig Scott

 

Rouna se tipiese spyskaart

ONTBYT: All-Bran Flakes met vetvrye melk

PEUSELHAPPIE: Appel en vetvrye jogurt

MIDDAGETE: ’n Volgraanpita met tunaslaai

PEUSELHAPPIE: ’n Peer

PEUSELHAPPIE: Weigh-Less-springmielies

AANDETE: Geroosterde hoender en groentepasta

TE DRINKE: 2 liter water

Rouna se 3 topwenke

  1. KOOP VOORAF

As jy die regte kos in jou huis het, sal jy makliker by die eetplan kan hou.

  1. MOENIE DAT DIE AFMEET JOU AFSIT NIE

In die eerste week moet jy jou porsies afweeg, maar later sal jy dit met die oog kan skat.

  1. HOU MOED

Daar sal hoogte- én laagtepunte wees. Bly gefokus. Die beloning is fantasties!

The post Dié werkende ma vertel hoe sy 16 kilo’s verloor het appeared first on Goeie Huishouding.


Kyk hoe hierdie vrou 23 kg verloor het

$
0
0

 

Melanie Fortune  HET 23 KG VERLOOR

Melanie Fortune
HET 23 KG VERLOOR

Melanie se storie

Hoewel sy al gewoond was aan oorgewig wees, het Melanie ongemaklik gevoel in alles wat sy gedra het. “Ek was swaar en heeltyd moeg. In Julie 2010 het ek besluit dis tyd vir verandering.” Sy het verskeie gewigsverliesprogramme probeer voordat sy van Weight Watchers gehoor het. “Ek het daarvan gehou dat dit ’n leefstylverandering is en nie een voedselgroep uitgesluit word nie. Ek kon sjokolade eet!”

“Die program gaan oor porsiebeheer; die woord ‘dieet’ word nooit gebruik nie,” sê sy. Danksy weeklikse weegsessies saam met haar Pinelands-groep, ondersteuning van lede en haar groepleier, Nawaal Ebrahim, asook motiverende praatjies, “kan jy jou slegte gewoontes in goeies verander”. Sy moes leer om in punte te dink en haar inname te monitor deur neer te skryf wat sy eet. “Dis erg wanneer jy besef hoeveel jy eet sonder om te dink!” Sy het nie aanvanklik geoefen nie, maar gim nou saam met haar dogter, Kirsten, en neem ook gereeld aan wedlope deel sedert sy by ’n atletiekklub aangesluit het.

Die eerste 10 kg was maklik. Daarna het haar verslankingstempo afgeneem. “Wanneer ek moedeloos gevoel het, het Kirsten my ‘die kyk’ gegee en my uitgevra. Sy het seker gemaak ek woon my weegsessie by, ongeag of ek ’n slegte week gehad het.” Kirsten het in Januarie 2014 by Weight Watchers aangesluit en is nou op haar doelgewig nadat sy 19 kg afgeskud het. Melanie se broer het in Julie 2013 aangesluit en al 25 kg verloor. Melanie het haar doelgewig in Mei 2014 bereik en as ’n lewenslange lid van Weight Watchers laat sy haar nog weekliks weeg. “Ek voel goed, asemrowend, fantasties – soos ’n vrou oor haarself móét voel.”

 

Toe: 82 kg | Nommer 16 Nou: 59 kg | Nommer 10

Toe: 82 kg | Nommer 16
Nou: 59 kg | Nommer 10

 

Melanie se tipiese spyskaart

ONTBYT: Muesli en jogurt

PEUSELHAPPIE: Vrugte of ’n ontbytstafie

MIDDAGETE: Tuna of hoender in ’n slaai of op ’n toebroodjie

PEUSELHAPPIE: Springmielies of neute, verkieslik amandels

AANDETE: Óf pasta óf vleis, hoender of vis saam met rys en groente

TE DRINKE: Koffie saam met ontbyt

 

Melanie se 3 topwenke

  1. AANVAAR DAT GEWIGSVERLIES TYD VERG.

Daar bestaan nie ’n kitskuur nie.

  1. PAS DIE 80/20-REËL TOE.

Ek spaar my “bederfies” vir naweke, maar ek voel nie beperk wanneer ek onverwags in die week iewers heen genooi word nie. Gewigsverlies bestaan buitendien uit 80% gesond eet en 20% oefening.

  1. PAK MÔRE SE MIDDAGETE IN …


… sodat jy nie “duur” keuses doen nie. Die kafee by die werk kan jou onnodige punte kos.

The post Kyk hoe hierdie vrou 23 kg verloor het appeared first on Goeie Huishouding.

Blogger Colleen Grove deel die “geheim” vir haar gewigsverlies

$
0
0

Colleen se storie

Oor die jare het Colleen met diëte suksesvol gewig verloor, maar dit dan weer aangesit. Nadat sy hoë cholesterol én bloeddruk ontwikkel het en prediabetes in Augustus 2013 by haar gediagnoseer is, het sy besluit om haar lewe te verander en “nie net weer gewig af te skud nie”. Sy het haarself van voor af oor koswetenskap geskool, oor Banting en ketogeniese diëte opgelees, prof. Tim Noakes se Die Kosrevolusie gekoop en ’n laekoolhidraat-hoëvet-leefstyl begin volg. Ondanks twee spinale fusies het sy begin stap: Elke kilogram af het oefening makliker gemaak.

Ná die aanvanklike detoks het haar lus vir suiker en koring (lees koeksisters en melktert) verdwyn en
sy het geleer hoe om resepte volgens haar dieet aan te pas – selfs haar geliefkoosde sjokoladekoek. Sedert haar man, Donald, dieselfde as sy by die huis begin eet het, het hy nie meer teensure nodig nie. “Ek ontsê myself nie lekkernye nie,” sê Colleen. “Ek dink nie eens aan brood nie en dit was my stapelvoedsel. Ek maak heerlike kos en is doodtevrede.”

Sy het 11 kg in tien weke verloor en hoewel haar gewigsverlies geleidelik was, is haar cholesterol nou die laagste wat dit in 14 jaar was, prediabetes is nie meer ’n bekommernis nie en haar bloeddruk is normaal. Haar depressie is weg en die beste van alles is dat haar kleinseuns hul arms om haar kan vou. “Ek gee geweldig baie om vir ander, maar het myself afgeskeep,” erken sy.
“Ek is nou liewer vir myself en weet dat ek die moeite werd is om dinge voor te verander.”

 Toe: 115 kg | No. 26 Nou: 95 kg | No. 18


Toe: 115 kg | No. 26
Nou: 95 kg | No. 18

Fotografie: Ian Reeves. Stilering: Natalia Keet van Gloss Artist Management.
Mode-koördineerder: Cathi Trevor. Hare en grimering: Renee de Wit van Gloss Artist Management

 

Colleen se tipiese spyskaart

ONTBYT: ’n Koppie rooibostee, 1 t klapperolie en 1 t ongesoute botter – alles gemeng – met ’n knippie kaneel

NOENONTBYT (11:30): Eiers met spek, tamaties en sampioene; ’n bessie-smoothie of tuna-en-avokadoslaai

PEUSELHAPPIE (15:00 of 16:00): Biltong, macadamianeute, olywe of ’n blokkie kaas

AANDETE: ’n Klein porsie vleis met 70% van die bord vol groente

TE DRINKE: Water, rooibostee en twee glase rooiwyn per week

 

 

Colleen se 3 topwenke

  1. LUISTER NA JOU LIGGAAM.

Ek het geleer om nie na daai stemmetjie te luister wat sê ek moet alles op my bord opeet nie.

  1. KOS IS NIE ’N BELONING NIE.

Pleks van trooskos te eet los ek nou my probleme op, praat dinge uit en raak ontslae van stres deur daagliks foto’s op Instagram te sit van dinge waarvoor ek dankbaar is, met my hond te speel of foto’s te neem.

  1. EET GENOEG GOEIE VETTE.

Dit stil die hongerpyne. Jy sal dus nie so gereeld peusel nie.

The post Blogger Colleen Grove deel die “geheim” vir haar gewigsverlies appeared first on Goeie Huishouding.

Vind uit hoe Fiona Kritzinger van ’n no. 28 tot ’n no. 18 gekrimp het

$
0
0

Fiona was nog altyd versot op kos en sou eet selfs al was sy nie honger nie. Brood, pasta, pannekoek, pizza en hamburgers was haar stapelvoedsel en namate sy al hoe meer oorgewig geraak het, het ’n swak selfbeeld haar tot trooskos gedryf, gevolg deur skuldgevoelens en nóg kos. Ná ’n noodoperasie in 2011 vir ’n ovariële sist het sy ’n infeksie ontwikkel en ’n “jaar van hel” deurgebring om te herstel.

In 2012 is ’n lewensgevaarlike breuk by haar gediagnoseer. Sy was ’n diabetes-grensgeval met hoë bloeddruk en cholesterol en het by tye in haar slaap ophou asemhaal. Dokters het gewaarsku dat as sy nie drastiese veranderinge sou maak nie, sy waarskynlik nie die ouderdom van 35 sou haal nie. “My ma is op 42 weens gewigsprobleme en ’n hartkwaal oorlede. Ek kon nie toelaat dat dit met my ook gebeur nie.”

Sy het ’n eierstok verloor in die noodoperasie in 2011 en nadat sy haar ander eierstok in ’n daaropvolgende operasie verloor het, sal sy nou nooit kan kinders hê nie. “Ek onthou ek het gesê: ‘Hoe het ek toegelaat dat dít met my gebeur?’ ” Op 1 November 2012 het Fiona besluit om ’n nuwe leefstyl te begin volg, ondanks baie kritiek van vriende en familie. Sy het dit eers alleen probeer regkry en toe op SleekGeek afgekom. Volgens hul Reboot-program het sy gemorskos, suiker, koffie en alkohol uitgesny en vier tot vyf keer per week begin oefen.

Sommer gou was die aanpassings soos tweede natuur: Sy soek onmiddellik die gesonde opsie op ’n spyskaart. Sy is nog 15 kg tot 20 kg bo haar doelgewig en het al ’n terugslag of twee beleef wat haar die handdoek wou laat ingooi. “Maar ek het nooit moed opgegee nie. Ek het myself ná elke terugslag opgetel, daaroor besin en daaruit geleer.”

Toe: 162 kg | Nommer 28 Nou: 102 kg | Nommer 18

Toe: 162 kg | Nommer 28
Nou: 102 kg | Nommer 18

Fotografie: Tarryn Hatchett. Stilering: Riaan Hulley van Red Hot Ops. Hare en grimering: Liezl Leach

Fiona se tipiese spyskaart

ONTBYT: ’n Omelet met sampioene, uie en tamatie

PEUSELHAPPIE: ’n Hand vol biltong of neute en bessies

MIDDAGETE: Hoender of steak met avokado en slaai

PEUSELHAPPIE: Biltong of neute

AANDETE: Hoender, vis of steak met slaai en groen groente (of botterskorsie of patat op oefendae)

TE DRINKE: Drie tot vyf liter water en rooibostee met heuning

Fiona se 3 topwenke

  1. DOEN OEFENING WAARVAN JY HOU.

Selfs al kan jy eers net vyf minute stap.

  1. KRY INSPIRASIE.
    Ek het motiverende stories, sêgoed en foto’s gesoek wat my sou aanmoedig en opbeur wanneer ek wou moed opgee.
  1. SLUIT BY ’N SOSIALEGELEENTHEIDSGROEP AAN.
    Op SleekGeek se Facebook-blad kon ek vriende maak met mense wat soortgelyke doelwitte as ek het.

The post Vind uit hoe Fiona Kritzinger van ’n no. 28 tot ’n no. 18 gekrimp het appeared first on Goeie Huishouding.

Hoe Gillian Bredenhann ’n ongelooflike 52 kg verloor het

$
0
0

Gillian se storie

In 2011 was ’n selfbewuste Gillian moeg daarvoor om lusteloos te voel en het sy besluit om gewig te verloor. Sy het 20 kg afgeskud deur laevetmaaltye te eet en elke dag’n halfuur lank te gaan stap. Hoewel haar gewig wipplank gery het, het sy teen Oktober 2013 40 kg verloor en dit met ’n familiefotosessie gevier. Sy het egter oor die Kersvakansie weer gewig aangesit. “In 2014 was my nuwejaarsvoorneme dat hierdie die laaste jaar sou wees dat ek oorgewig is.” Nadat sy by ’n vriend van die laekoolhidraat-hoëvet-leefstyl gehoor het, het Gillian navorsing gedoen en eindelik metodes en resepte van die paleo-, Tim Noakes- en ketogeniese leefstyl gekombineer. ’n Behoorlike ontbyt hou haar heeldag vol, maar sy peusel indien nodig. Aandete is hoofsaaklik groente en proteïen. Sy het nog 16 kg verloor – net 3 kg van haar doelgewig af – en ontdek dat hoewel dit moeilik is om gewig af te skud, dit nog moeiliker is om dit af te hou. “My gewig is nou stabiel, maar ek werk hard daaraan om dit só te hou,” sê sy. “Om by ’n klerewinkel in te stap en te kan kies pleks van die enigste ding te koop wat pas, maak dit beslis die moeite werd,” sê Gillian. Sy “treur nie meer binne” terwyl haar gesin buite pret het nie. Sy neem Zumba- en ketelgewiglesse saam met Nicole (19) en ry fiets saam met Devon (16). Haar man, Gert, wat haar nog altyd ondersteun het, is ook lief vir fietsry. Die gesin se naweekplanne sluit dus nou fietsritte in.

Toe: 115 kg | Nommer 24 Nou: 63 kg | Nommer 10

Toe: 115 kg | Nommer 24
Nou: 63 kg | Nommer 10

Foto: Ian Reeves

Gillian se tipiese spyskaart

ONTBYT: Skelvis in ’n room-en-bottersous met ’n halwe avokado en gekookte eiers

PEUSELHAPPIE: Neute, biltong, olywe of kaas

AANDETE: Geroosterde hoender met Brusselse spruitjies en murgpampoentjienoedels of braaivleis met broccoligebak en skorsie

TE DRINKE: Koffie, tee, water en af en toe ’n glas wyn 

Gillian se drie topwenke

  1. KOOP VIR ’N WEEK SE ETES.

Ek beplan ’n spyskaart ’n week vooruit en koop alles die vorige naweek.

  1. WEES REALISTIES.

Jy het waarskynlik oor etlike jare gewig aangesit. Moet dus nie verwag om dit oornag te verloor nie. Stel haalbare doelwitte.

  1. VIND ’N AANLYNGEMEENSKAP.

Gewigsverliesgroepe op Facebook hou my op koers met uitdagings en ondersteuning.

The post Hoe Gillian Bredenhann ’n ongelooflike 52 kg verloor het appeared first on Goeie Huishouding.

6 redes hoekom jy nie gewig verloor nie

$
0
0
  1. Jy is nie konsekwent nie

As jy ongereeld oefen en net gesond eet wanneer jy onthou om dit te doen, moenie verwag om jou doelgewig in ’n japtrap te bereik nie. Kies ’n oefen-en-dieet-plan wat vir jou werk en hou daarby!

  1. Jy kul jouself

Natuurlik moet jy rusdae tussen oefening neem, en ’n kulmaaltyd elke nou en dan sal nie kwaad doen nie, maar om elke aand nagereg te eet omdat jy geoefen het, kan jou gewigsverliespogings laat ontspoor. Moenie jouself met kos beloon nie (jy is nie ’n hondjie nie!) en hou ’n kos-en-oefen-dagboek sodat jy kan monitor of jy op die regte pad is – of nie.

  1. Jy lees nie kosetikette nie

Jy dink jy is baie soet deur daardie vetvrye bessiejogurt te eet. Jy is nie! Lees die etiket en jy sal vir seker weggesteekte suiker op die bestanddelelys kry. Sommige alternatiewe name vir suiker is: mieliestroop, dekstrose, maltose, melasse, rietsuikerstroop en sukrose. Enige bestanddeel wat op “ose” eindig, is waarskynlik ’n vorm van suiker.

  1. Jy doen net kardio-oefeninge

Jy moet oefeninge met gewigte insluit sodat jy sterk spiere kan bou, wat jou liggaam help om vet te verbrand.

  1. Jy kry nie genoeg slaap nie

Slaapontneming kan tot hoë vlakke van kortisol lei, ’n hormoon wat nie net daarvoor bekend is dat dit meer vet stoor nie, maar ook jou spysvertering belemmer.

  1. Jy eet te veel

Een van die algemeenste foute wat diëters maak, is om hulle met porsiegroottes te misgis. Die oplossing is eenvoudig: Maak eerstens seker jy weet wat die regte porsiegroottes vir byvoorbeeld ’n bakkie ontbytgraan is, en gebruik tweedens kleiner borde en messegoed.

 

The post 6 redes hoekom jy nie gewig verloor nie appeared first on Goeie Huishouding.

Tim Noakes se 4 top-Banting-wenke

$
0
0
  1. Tel koolhidrate, nie kilojoules nie.
  2. ’n Lae-koolhidraat-hoë-vet-dieet (LKHV) beheer honger, wat die enigste manier is om gewig te verloor en slank te bly.
  3. Afhangende van jou insulienweerstand is die optimale daaglikse koolhidraatinname 25 g tot 200 g.
  4. Banting is nie ’n dieet nie; dis ’n lewenslange eetplan. Jy kan nie na slegte eetgewoontes terugkeer nie.

The post Tim Noakes se 4 top-Banting-wenke appeared first on Goeie Huishouding.

5 dinge wat jy nooit vir iemand op ’n dieet moet sê nie

$
0
0

1. “Kom ons gaan eet pizza!”

Verleiers is die ergste. As jou vriendin probeer gewig verloor en jy dryf haar na haar gunsteling-kitskosplek toe, is jy die teenoorgestelde van ’n goeie vriendin. As jy wil gaan uiteet, stel ’n plek voor waar jy weet daar gesonder opsies is. Nog beter? Laat haar die plek kies.

2. “Maar jy is so maer! Jy het nie nodig om gewig te verloor nie.”

Dink jy dis skadeloos? Dink weer. Los die woorde “vet” en “maer”. Dis geneig om waarde toe te skryf aan hoe ons lyk, wat nie noodwendig met ons gesondheid verband hou nie. En tensy dit vir haar fisiek skadelik sal wees om gewig te verloor, bly stil. As ’n vriendin is jou werk om ondersteunend te wees, nie die dieetpolisie nie.

3. “Eet jy dít? Ek dag jy probeer gewig verloor.”

Net omdat jy eenkeer op ’n detoks gewig verloor het, jou persoonlike afrigter gevra of iets op ’n TV-program gehoor het, beteken dit nié jy is ’n voedingkenner nie. Glo dat jou vriendin weet wat reg vir haar is – en dat sy op ’n veilige, gesonde eetplan is.

4. “Kom ons gaan uit vir drankies.”

Alkohol laat ’n mens dalk beter voel, maar dis sleg vir jou wilskrag. Jy sit regtig net jou vriendin met honderde kilojoules terug. Dis beter om net aandete te gaan eet en één skemerkelkie of ’n glas wyn te drink.

5. “Het jy Paleo/vas/hierdie nuwe sapdetoks probeer?”

Modediëte kom en gaan om ’n rede, en om dit aan te beveel is om twee redes skadelik. Eerstens is gesond eet en dieetgiere nié dieselfde nie. Tweedens, as jou vriendin op die regte plan is, gaan sy dit lank volg. Moet haar dus nie verwar deur iets voor te stel wat ou nuus sal wees voordat jy “spinasie-smoothie” kan sê nie.

Hierdie artikel is aangepas van die oorspronklike een wat op goodhousekeeping.com verskyn het.

The post 5 dinge wat jy nooit vir iemand op ’n dieet moet sê nie appeared first on Goeie Huishouding.


7 gewigsverlieswonders

$
0
0
Weight loss WEB
  1. KOOK PASTA AL DENTE

Wanneer jy spaghetti vir 5 minute kook, is die glisemiese indeks 38. Ná 20 minute skiet dit op na 61. Hoe hoër die glisemiese indeks, hoe gouer sal jy weer honger wees.

  1. EET KLEIN HAPPIES TUSSENIN

’n Gesonde happie in die middel van die oggend en in die middag sal keer dat jy te veel vir middag- en aandete eet én jou kilojoule-inname verminder.

  1. EET S…T…A…D…I…G

In een studie het vroue wat ’n halfuur lank aan ’n pastagereg geëet het amper 290 kJ minder ingeneem as dié wat dit binne nege minute verorber het.

  1. KOU KOUGOM TERWYL JY KOSMAAK

Dit verbrand sowat 46 kJ per uur en kan keer dat jy daardie “smaaktoetshappies” neem.

  1. OPPAS VIR SNOEPHAPPIES

“Ek wil net proe” (daai pastei, roomys, pizza …) kan 100 kJ per happie beteken.

  1. HOU ’N KOSDAGBOEK

As jy neerskryf waaruit jou maaltye en tussenin-happies bestaan, kan dit jou help om suksesvol gewig te verloor. Trouens, onder ’n groep van bykans 1 700 diëters wat aan ’n navorsingstudie deelgeneem het, het die dagboekhouers dubbel soveel verloor as dié wat nie boek gehou het van wat hulle eet nie.

  1. SKAKEL DIE MUSIEK AF!

Mense bly langer aan tafel sit wanneer daar agtergrondmusiek speel – ongeag die tempo of volume. En hoe langer jy vertoef, hoe groter raak die versoeking om nog ’n porsie te eet.

The post 7 gewigsverlieswonders appeared first on Goeie Huishouding.

Maak die spyskaart toe om te verslank

$
0
0
Menu_afr_eng_19.11_leigh

Wanneer jy weer uiteet, kies ’n gesonde gereg en maak die spyskaart toe. Navorsers aan die Universiteit van Chicago in die VSA sê dié eenvoudige stap kan jou meer tevrede met jou keuse maak. En jy het nie ’n wetenskaplike nodig om vir jou te sê hoekom dit jou sal help verslank nie: As jy ontevrede voel en die spyskaart weer oopmaak, kan jy dalk verlei word … deur aartappelskyfies!

The post Maak die spyskaart toe om te verslank appeared first on Goeie Huishouding.

4 dinge om vanaand voor slaaptyd te doen om môre gewig te verloor

$
0
0
bedtime weightloss

1. Drink water!

Dors word dikwels met honger verwar. As jy dus voor slaaptyd hongerig voel, drink eers ’n glas water (of twee). Laatnag (ná 21:00) is die slegste tyd om te peusel, want jou liggaam gaan in ’n onaktiewe, rustende toestand in.

2. Peusel slim

As jy vroeg aandete geëet het en voor slaaptyd honger voel, kies gesonder opsies soos jogurt, neute en laevetkaas eerder as koekies of skyfies.

3. Beplan en berei jou SPYSKAART

Skryf vinnig neer wat jy die volgende dag gaan eet en berei soveel van hierdie maaltye en snoephappies as moontlik, veral ontbyt. Om ontbyt oor te slaan, op ’n leë maag te gaan inkopies doen en onvoorbereide koskeuses te doen kan alles daartoe lei dat jy jou ooreet of die verkeerde kosse kies.

4. Gaan slaap vroeër

Navorsing dui daarop dat mense wat tussen sewe en agt uur slaap per nag kry geneig is om die volgende dag aktiewer en minder honger te wees. ’n Gebrek aan slaap lei tot hoër vlakke van die hongerhormoon ghrelien.

The post 4 dinge om vanaand voor slaaptyd te doen om môre gewig te verloor appeared first on Goeie Huishouding.

100-plus artikels oor gewigsverlies spesiaal vir jou

GH-leser Zaida Grobbelaar vertel ons hoe sy 38 kg verloor het

$
0
0
weight loss 1 zaida_eng_18.1_leah

OUDERDOM 37 | TOE 130 kg | NOU 92 kg

 

ZAIDA SE STORIE

 

Hartsake

“In 2009 het ek een oggend wakker geword en besef ek kan nie aanhou gewig aansit nie. Ek het hartpyne ervaar en dit het my regtig laat skrik,” sê sy. Haar hele familie is swaar en haar ma was ’n diabeet. “Sy het haar been weens swak sirkulasie verloor voordat sy aan ’n beroerte dood is en ek wou nie só opeindig nie.” Zaida het ’n paar gemeenskapsfiksheidsklasse bygewoon voordat sy by ’n nuwe gim aangesluit het. “Wat my opgewonde gemaak het van die gim, was die verskillende hoë-energie-klasse soos Zumba, Fight Night, Cardio Insanity en selfs buikdans. Jy kan pret hê én jou hele lyf oefen.

’n Bietjie meer

Zaida het eers drie maal per week geoefen, maar nie resultate gesien nie. “Ek het ook pille, skommels, sopdiëte en allerhande ander diëte probeer – en dit
het gewerk – maar ek kon nie daarmee volhou nie.
Ek het besef ek sal dit verder moet voer. Ek doen
nou vier keer per week twee uurklasse en twee maal
’n week loop ek vir 20 minute vinnig op die trapmeul.” Sy doen ook allerlei staptogte vir liefdadigheid
– waarvoor sy al 18 medaljes het – en sy het haar
suiker- en styselinname drasties ingeperk. “Ek het vier en ’n half teelepels suiker in my koffie gedrink en nou drink ek net een. In die ou dae kon ek ’n hele koek opeet!”

Meer selfvertroue

Zaida se lewensverandering is merkwaardig. “Ek het baie TV gekyk. Ek kon nie met my kinders speel nie, want ek het te gou moeg geword, maar nou kan ek vir hulle weghardloop!” My verhouding met my man, Eirufaan, het ook verbeter, want ek is gemakliker in my eie lyf. En ek het baie meer selfvertroue, want ek weet ek lyk goed!”

 

ZAIDA SE 3 TOPWENKE

 

1 Gebruik ’n kleinbordjie

Ek gebruik nie meer ’n grootbord nie en skep nie ’n tweede porsie nie.

2 Verander jou leefstyl

Elke dieet werk, maar dis om daarmee vol te hou wat die probleem is.

3 Daar’s nie ’n kitsoplossing nie

Wat jy insit, sal jy uitkry. As jy hard werk, sal dit wys.

 

ZAIDA SE TIPIESE KOSDAGBOEK

 

Ontbyt: Jungle Oats en koffie, albei met laevetmelk

Peuselhappie: ’n Porsie vrugte en groentee

Middagete: Twee snye volgraanbrood met tamatie, komkommer, blaarslaai en avokado of gekookte eier, of grondboontjiebotter

Peuselhappie: Neute

Aandete: Hoenderkerrie en bruinrys 

Drankies: Minstens twee liter water en groentee, koffie en tee

 

The post GH-leser Zaida Grobbelaar vertel ons hoe sy 38 kg verloor het appeared first on Goeie Huishouding.

Viewing all 43 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>